Kry ’n roetine

Waarom is roetine belangrik?

Roetine leer kinders verantwoordelikheid en kan dus jou kind selfstandiger maak, sê Michelle Andrews, ’n kliniese sielkundige van Johannesburg.

  • Dit help kinders ’n balans vind tussen huiswerk, speelmaats, higiëne en gesinstyd.
  • Roetine leer jou kinders hul tyd doeltreffend bestuur.
  • Dit verminder stres in jou huishouding, want jou kinders sal minder gejaag wees en jy as ouer sal nie gedurig hoef te kyk dat alles gedoen word nie.

Wat is ’n roetinekaart?

Dis ’n kalender wat van Maandag tot Sondag strek, met ’n lys take wat jou kind elke dag moet voltooi. Dit werk veral goed vir kinders jonger as 12 jaar, sê Melissa Bothma, ’n opvoedkundige sielkundige van Kaapstad. Na gelang van jou kind se ouderdom kan dit alles van tande borsel tot huiswerk insluit.

Plak dit waar jou kinders dit kan sien. As jy dit laat lamineer, kan hulle hul take met ’n witbordmerker of aftrekplakkers daarop afmerk. Melissa raai ma’s van ouer kinders aan om ’n kontrak met hulle te sluit, soos dat hulle sekere take in ruil vir sakgeld sal doen.

Watter verskil kan dit maak?

Melissa sê ’n roetinekaart kan die volgende voordele vir kinders inhou:

  • Omdat dit tasbaar en visueel is, help dit kinders hul take onthou.
  • Dit help ouers doelwitte vir die kinders stel en kinders om vir hulself doelwitte te stel. As jou kind byvoorbeeld ’n musiekinstrument wil leer bespeel, kan julle op die roetinekaart oefentyd daarvoor inruim.
  • Dit help jou kinders selfstandig wees omdat hulle weet hulle moet self die take op hul kaart voltooi, sê Karline Farbach, ’n opvoedkundige sielkundige van Kaapstad. Hul selfvertroue sal boonop ’n hupstoot kry as hulle die take alleen verrig.

Hoe maak ek ’n roetinekaart aanvaarbaar vir my kind?

  • ’n Beloning-en-strafstelsel moedig roetine aan, sê Karline. As jou kinders nie hul take nakom nie, kan jy hul voorregte weerhou.
  • “Sorg dat die take geskik is vir jou kind se ouderdom en vermoëns,” sê Michelle. As jy te hoë eise stel, sal dit jou kinders ontmoedig as hulle nie daaraan kan voldoen nie.
  • “Wees spesifiek,” sê Karline. Moenie net sê hul kamer moet netjies wees nie. Sê liewer hul bed moet opgemaak wees en hul vuil klere in die wasgoedmandjie.
  • Moenie net onplesierige take aanteken nie, want dan gaan jou kinders hul roetinekaart met straf vereenselwig, sê Michelle. Meng onaangename en lekker take, voeg Karline by. Jou kinders sal dan byvoorbeeld hul huiswerk flink doen omdat hulle uitsien daarna om later TV te kyk.

Wanneer kan my kind die roetine verbreek?

  • Die roetine moet soms verbreek word, want dit leer kinders ’n mens kan nie alles beplan nie, sê Karline. “Ouers kan van Sondag- tot Donderdagaand ’n streng roetine met hul kinders volg, maar hulle naweke en vakansies meer vryheid gun,” sê Melissa.
  • Selfs al word die roetine vakansietye verbreek, moet basiese take steeds verrig word. In die vakansie hoef hulle byvoorbeeld nie elke dag somme te oefen nie, maar hulle moet nog altyd hul tande borsel.
  • Kinders moet verstaan hoekom die roetine verbreek word, anders verwag hulle dit dalk op ander tye ook.

Watter voorbeeld moet ek as ouer stel?

“Kinders leer deur hul ouers waar te neem,” sê Karline. As jy ’n roetine by jou kind wil aanmoedig, moet jy self ook ’n roetine volg.

  • Wees betyds vir afsprake, wees netjies en hou by doelwitte – soos eetplanne – sodat jou kinders kan sien jy volg ook ’n roetine.
  • Maak lyste van alles wat ingepak moet word vir jul vakansie. Dit moedig jou kinders aan om jou voorbeeld te volg.
  • Kom jou beloftes na. As jy byvoorbeeld jou kinders beloof het julle kan gaan fliek as hulle al hul take voltooi, moet jy jou belofte gestand doen. Dit sal jou kind die waarde van aksies en reaksies leer, sê Melissa.

Comments

Popular posts from this blog

Brief aan my dogtertjie : Jody

Kaart

Shredders....